top of page

Errie kuns beste in Mpumalanga

Content Supplied

30 August 2022

Die tema was 'Sirkels' en leerders moes die tema op ’n kreatiewe manier interpreteer as ’n praktiese taak.

Die Erries neem die afgelope agt jaar deel aan die Mpumalanga-kunskompetisie wat deur die Departement van Onderwys geloods word. Elke jaar behaal die Erries plekke op die top 10 en selfs’n tweede of derde plek. Vanjaar het die Erries egter die kompetisie oorheers en ’n eerste, tweede en derde plek behaal, asook algehele wenners van kuns as vak in Mpumalanga. Altesaam 300 inskrywings, wat Ontwerp en Visuele kuns insluit, was die meeste inskrywings nóg vir hierdie kompetisie.

Die tema was 'Sirkels' en leerders moes die tema op ’n kreatiewe manier interpreteer as ’n praktiese taak. 168 visuele kuns leerders het in die provinsie ingeskryf waarvan nege leerders Erries was. Die kunswerke is deur drie kunstenaars van Mbombela en omgewing beoordeel. Ses Erries het plekke in die top 10 plekke behaal! Almal se kunswerke word in die Mbombela kunsgalery uitgestal waar die publiek dit kan besigtig. Die top 10 plekke is behaal deur: Inge van der Walt, Bianca de Jager, Ancois van der Berg (Graad 11-leerder), Thobani Mbuli, Ilandri Nel en Gift Mthethwa (Graad 12-leerders).

Thobani Mbuli word as algehele wenner aangekondig, Ilandri Nel behaal ’n tweede plek en Gift Mthethwa ’n derde plek. Alle skole in Mpumalanga wat Visuele Kuns as vak aanbied, word verplig om aan dié kompetisie deel te neem en Hoërskool Ermelo is as wenner in Mpumalanga aangekondig vir die vak Visuele Kuns. Die Erries wat deel is van die top tien se werke word by die Mbombela-skou uitgestal. Hulle sal ook tydens ‘n prysuitdeling hulle kontantpryse, geborg deur die skou, ontvang. Baie geluk aan elkeen van hierdie leerders met jul pryse en uitsonderlike talent, asook aan me Carin van der Merwe wat as onderwyser die leerder lei om die sukses te kan behaal. EHS is trots op julle. - Inhoud en foto verskaf deur EHS

bottom of page