top of page

Inwoners stik aan stank van ontlasting

GK CRONJE

6 July 2022

Die straat en veld is gesaai met menslike ontlasting, sanitêre produkte, kondome en toiletpapier.

Te midde van die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit (MLM) wat nuwe konstruksieprojekte, bouplanne en koshuisuitbreidings links en regs goedkeur, trek die omgewing, fauna en flora, asook inwoners letterlik vir jare lank al aan die kortste punt. Die onvoldoende rioolnetwerk, wat vanaf Camdenlaan, via President Fouchélaan tot en met Robbertsstraat strek, is al vir meer as 10 jaar ‘n doring in die vlees van menigte inwoners. Munisipale bestuurders van vier verkiesings terug se beloftes bly steeds onvervuld, met die probleem wat daagliks vererger. Die impak op die natuurlewe en vleilanddiere, veral opmerklik die reiers wat Ermelo bekoor, is 'n rede tot groot kommer, aangesien die rioolstorting direk in die Pet Dam vloei, wat 'n spoor van besoedeling en wildsterftes in sy nasleep laat. Vanaf die Pet Dam, wat alreeds buitensporig besoedel is, sluit die oorloop aan by die Klein Drinkwaterstroom, wat uiteindelik in die Vaalrivier beland. In 'n omgewingstudie wat vrygestel is, word MLM, onder drie ander Mpumalanga-munisipaliteite, uitdruklik as 'n hoofskuldige in die jare lange besoedeling van die Vaalrivier uitgewys.

Tot op hede is geen opgraderings, of aksie geneem nie, met die situasie wat onverklaarbaar erger is as voorheen. Daar is wel bewerings van ‘n kontrakteur wat besig is met rioolstelsel opgraderings in dié area. Helaas, inwoners weeklaag die feit dat die kontrakteur, volgens klagtes ontvang vanaf inwoners, die probleem egter vererger het. “Die manne dolwe die hele area om, en gaan kwansuis nuwe pype installeer. Dit lyk vir my meer of hulle aanjaag, want die riool is nou tien keer erger as wat dit was. As ek by my voordeur uit kyk, sien ek net plasse rou riool waar die kontrakteur werk gedoen het. Is dit nou die tipe werkmanskap wat ons tevrede mee moet wees. My hele huis riuk na ontlasting, en dit vererger soggens en saans. Ons gaan slaap met die reuk, en word wakker met die reuk. Ons kan nie eers meer buite braai nie, want die walglike reuk maak mens letterlik naar,” het ‘n woedende inwoner aan die Tribune gesê.

Die gereelde verstoppings en oorloop van die rioollyn in President Fouchélaan dui duidelik op 'n groter probleemfaktor met die netwerkarea, aangesien inwoners naby die President Fouchélaan en Robertsstraat-kruising in 'n konstante walm van ontlasting woon. Die straat en veld is gesaai met menslike ontlasting, sanitêre produkte, kondome en toiletpapier. Die velde in hierdie area is voortdurend deurdrenk met riool, en hou ook ernstige gesondheidsimplikasies in vir inwoners en leerders van die nabygeleë skole. Terwyl MLM se gesagsfigure, sowel as verskeie wyksraadslede deeglik bewus is van die probleme waarmee inwoners te kampe het, wil dit voorkom asof min gedoen word om 'n permanente en lewensvatbare oplossing te bied. Gert Sibande-distriksmunisipaliteit is ook by verskeie geleenthede oor die kwessie ingelig, maar beweer dat hulle geen jurisdiksie in die saak het nie.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het opgemerk dat die party 'n brief aan die premier van Mpumalanga gestuur het. Ongelukkig is dit bykans ‘n jaar later, met geen terugvoer of aksie rakende die probleem nie. Lesers kan meer foto's en video's op ons Facebook-blad, Tribune Ermelo, sien.

bottom of page