Besigheids eienaars sit met hand in die hare
GK CRONJE
15 November 2022
"Die sluwe karakters wat hier rond sluip, skrik baie potensiële klante af."
Te midde van die diensleweringskwessies wat Ermelo ervaar, loop Cassim Park se inwoners goed deur. Wat eens die trots en vreugde van inwoners in hierdie area was, het Cassim Park sedertdien teruggeval tot 'n hol skaduwee van sy eertydse glorie. Strate is deurtrek met slaggate, werksterreine word onvolledig gelaat, verskeie straatligte is óf beskadig en leun gevaarlik na die pad, óf heeltemal buite werking, en vullis bemors die sypaadjies. Gras op munisipale terreinne is onversorg, en raadsgeboue, elektriese kiosks, mure en meer is bedek met graffiti en onwelvoeglike gespuitverfde beelde.
Ten spyte van talle klagtes vanaf inwoners wat gerig word aan Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit, is daar steeds geen verligting vir besighede in Cassim Park van die onwettige storting van vullis in Tauruslaan nie. Verskeie klagtes wat deur besigheids eienaars aan Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit gerig is oor die toestand van hierdie gebied, val doodluiters op dowe ore. Tuinvullis, stukke glas van vermorselde televisiestelle, drankbottels, menslike ontlasting en allerlei ander vullis versuur die parkeerarea, met haweloses wat die omhulsels van kabels in die verlate gebou af smelt.
“Ons sukkel om in hierdie area besigheid te doen. Die sluwe karakters wat hier rond sluip, skrik baie potensiële klante af. Die glas- en metaalskerwe is 'n resep vir pap bande, en die konstante rook van die brandende vullis, gepaard met die reuk van menslike urine en ontlasting, is genoeg om selfs die mees lojale kliënte af te skrik. Ons is aan die einde van verstand hier,” het 'n ontstelde sake-eienaar aan die Tribune gesê. Klagtes van boosdoeners en bendelede wat die lewe vir inwoners nag maak is ook aan die Tribune genoem. Dié kriminele kan snags ongesiens rondsluip, sedert ‘n minimale hoeveelheid straatligte in werkende toestand is. Al is Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit bewus van hierdie kwessies, verval Cassim Park ongelukkig saam met die res van Ermelo en die omliggende areas.
Sien meer foto's op ons Facebook blad, Tribune Ermelo.