ACSU fnuik kriminele
ACSU fnuik kriminele
SM HATTINGH
5 July 2022
Die swaarvoertuig is in Ermelo, Merinostraat voorgekeer deur ACSU, asook plaaslike SAPD lede.
Op Dinsdag, 28 Junie 2022, het daar ‘n boodskap deur gekom op ‘n WhatsApp groep, wat laat weet het dat die Ermelo gemeenskap moet uitkyk vir ‘n swaarvoertuig wat vanaf Panbult in die rigting van Ermelo reis met gesteelde sleepwaens. Die swaarvoertuig is in Ermelo, Merinostraat voorgekeer deur ACSU, asook plaaslike SAPD lede. Die sleepwaens is reeds in November 2021 gesteel, en daar was ‘n saak geopen. Tydens ondersoek is daar gevind dat die VIN nommer op die lisensie skywe, en die VIN nommer wat gemerk is op die swaarvoertuig deur die fabriek, nie dieselfde is nie. Die eienaar van die sleepwaens is dadelik gekontak deur Mnr. Bester Maree van ACSU.
Ermelo SAPD lede, saam met ASCU, het die swaarvoertuig geneem na die voertuig diefstal eenheid. Die eienaar van die sleepwaens was spoedig op die toneel, en het die nodige bewyse gestaaf dat die waens wel aan hom behoort. Die twee waens, asook die swaarvoertuig, is gekonfiskeer vir verdere ondersoek in die saak. Die eienaar van die waens wil graag vir ACSU, asook Ermelo SAPD, bedank vir hul vinnige en flinke reaksie om die waens te kon terug gekry. “Wel gedaan, ACSU en Ermelo SAPD!”